Perspektief

Sien jy Februarie as ‘n maand met minder dae? Of sien drie bonus dae vir die ander maande van die jaar? Ons perspektief is dikwels in ‘n boksie gedruk en ons moet uit ons gemaksone kom om ons visie te verbreed.

Om ‘n nuwe perspektief te kry moet jy net vir ‘n oomblik ontsnap van jou klein wereld en besef dat alles nie so gejaagd hoef te wees nie. Tyd is ‘n vreemde konsep. Tyd word nooit verloor nie, dit word net swakker benut. Leo Christopher het gese dat daar net een ding in die lewe is wat meer kosbaar is as tyd, en dit is die mense saam wie jy dit spandeer. Tyd met vriende en familie, of in die natuur is ‘n manier om af te skakel en net weer dankbaar te raak vir die eenvoudige dinge van die lewe.


Ons gun dit vir mense om te kom afskakel op ons gasteplaas en kosbare tyd saam familie en vriende te spandeer. In die ruim plaashuis kuier almal altyd lekker saam en maak soet herhinneringe rondom die tafel. Of dit nou is met heerlike braaivleis of met ‘n kaart speletjies – op die plaas is daar altyd plek om te ontspan. Die aktiewes kan gaan draf of fietsry tussen die las-lappie-landerye terwyl ander langs die berg rivier met ‘n visstok ontspan. Julle kan ook vars plaaseiers koop en ‘n ordentlike plaas ontbyt voorberei.

Die Bergrivier vloei ongeveer 300m vanaf die plaashuis asook die kampterrein; dit is ideal om na toe te stap. Daar is ‘n keerwal wat ‘n heerlike diep poel skep om in te swem of net lekker op ‘n tube te le. Hierdie keerwal is in 1967 gebou sodat daar genoeg water is op die plaas. Destyds was daar net water uit Wemmershoekdam vrygelaat wat beteken het dat daar nie reg deur die jaar water in die rivier is nie. Die keerwal het die sand weggespoel sodat daar ‘n gat vorm waaruit daar gepomp kan word – dit is die diep gat waarin mense swem. Met die keerwal in plek was daar meer water reg deur die jaar en dit kon volhoubaar gepomp word. Vandag word hierdie gat steeds gebruik om water na die huise en besproeiing toe te pomp.

Daar is verskeie aktiwiteite vir gaste en gereeld verskillende dinge wat op die plaas gebeur. Omdat ons met ‘n variasie boer, is daar aksie reg deur die jaar. In Februarie het ons die grond reeds begin voorberei vir die opkomende graan oes. Die koring word geplant na die jaar se eerste reen, so voordat die water val moet die grond reeds bewerk wees. Gaste is altyd welkom om saam trekker te ry of te kyk na die implemente. Ons is baie trots op wat ons het en wil graag die lewe op die plaas met ander ook deel.